OUPA EN OUMA SE 50 ste HUWELIKSHERDENKING

Toe ons klomp oupa en ouma se 50ste huweliksherdenking beplan, het die idee ontstaan om dit in hulle "honeymoon" hotel in Maputo te hou. Hier staan 'n klompie van ons voor die Hotel Cardoso.

Dit was lekker om almal daar te hê, alhoewel die rit soontoe vir bietjie pret gesorg het. (by die grenspos moes Alex heen en weer hardloop om beamptes te oortuig dat Nicolien se noodpaspoort sonder datum net 'n beamptefout is). Wat ek ongelukkig nie gesien het nie is hoe die groep wat gevlieg het, (dis nou Errie, Alida, die twee seuns, Mari en oupa en ouma) vanaf die lughawe hotel toe geneem is. Dis is met 'n regte minibus taxi en al die sports wat daarmee saamgaan - bussie het laat aangekom, stukkende deur, harde bankies en 'n drywer wat Maputo se verwarrende robotte, kruisings en paaie "BAIE" goed verstaan.

Die hotelverblyf was uitstekend en die hotelpersoneel het iets spesiaal gemaak van oupa en ouma wat in 1955 laas hier was. Die herdenkingsete was die Saterdagaand in 'n eetsaal net vir ons klomp. En soos dit Mosambiek betaam was die seekosse indrukwekkend.

Die res van die tyd het ons gekuier, meestal die restaurante op die seefront besoek. 'n Hoogtepunt was sekerlik die besoek aan Inhaca eiland. Die bootrit sal nogal onthou word. 'n Ligte windjie het gesorg vir 'n lekker woelige see met die terugkom. Ons het almal op daai stormsee gewens ons kon nog maar eerder daar by Lucas se restaurant onder die palmbome sit.

Oupa het ons ook een middag na die hotel geneem waar hulle as jongmanne naweke gaan kuier het, daar van Piet Retief af, waar hy begin skoolhou het.

'n Wonderlike herdenking vir twee wonderlike mense. Ons weet nou hoekom ouma daardie botteltjie Mattheuswyn uit 1955 so kosbaar al die jare bewaar het.

 


Op Inhaca eiland