DESEMBER 2005

Vakansies het altyd 'n tema. Ons gesin het een Desember vakansie besluit om op die spore van my Barkhuizen voorgeslagte stap. Natuurlik was dit vakansie...en met net daai bietjie geskiedenis.

Eintlik moes die vakansie by die landgoed Niederbarkhausen by Oerlinghausen in Duitsland begin het. Ons moes toe in Amsterdam na die replika van die ou VOC skip gaan kyk en by Texel op 'n bootreis na Suid-Afrika vertrek het.

Ou Jan Barckhausen land toe in 1766 aan boord van die "Kievits heuvel" in Kaapstad hawe. Toe ons gesin deur die kasteel stap moes ek net opmerk dat hy beslis hier was - al was dit nou net om te rapporteer, "eks hier". Ek twyfel of hy soos ons 'n draai by Robbeneiland, die akwarium, tafelberg en wynplase sou gemaak het. Hy het beslis ook nie in Stellenbosch gebly nie.

Ons weet darem dat hy in Swellendam lidmaat was, daar getrou het en omtrent al 13 kinders daar gedoop het. Hoe hy daardie ent pad elke keer met 'n wa van sy plaas op "Die Vlug" oorleef het weet ek nie. Ons het vir vakansiedoeleindes maar so bietjie afgedwaal en die Overbergse kus goed gaan bekyk. Ons het ELKE strandjie besoek en toe lekker op Stilbaai gaan rus vir 'n week.

Toe is ons verder na die eerste plaas wat aan Jan as leningsplaas toegeken is nl "De Vlught". Daar het ons het op 'n gedeelte van die plaas "Kliprivier" gebly wat eintlik aan een van sy seuns behoort het. Hierdie gedeelte is vandag bekend as "Williamsburg Farm" met 'n pragtige klein kaapse huisie om in te bly. (foto hier links)

Jan Barckhausen moes dikwels help met kommandos om gesteelde vee tussen Knysna en Plet te gaan haal. Hy was ook op en af langs die kus om die oorlewendes van die skip Grosvenor te gaan soek. Baie van sy nageslag het in Uniondale en omgewing gebly. Een van sy seuns Simon Hendrik het egter in Uitenhage gaan boer. Vandaar is sy seuns na Somerset-Oos en uiteindelik die Wes-Transvaal. My oupagrootjie se ma is op Bedford in die Oos-Kaap begrawe. Wel ons is nou so naby Hogsback om 'n forel te vang ...... maar 'n pap wiel sorg vir 'n kinkel. Toe is mos maar reguit binneland toe.

buggy
Links. Dit was lekker om Andre en Sarie weer te sien. Ons sal hierdie aand om die kaggel maar die "Mooiuitzigt" aand noem.

 

Regs Hier is ons op die foto regs weer oppad met die beach buggy om te gaan visvang.

rosilou

Oor die pont by Malgas. Ons het sommer lekker ontspan in die Hotel daar. Die stuk pad tussen Bredasdorp en Malgas was vir iets nuuts. Dink dit moet baie mooi wees met koring en canola in blom.

 

Regs is die huisie "Rosilou" op Struisbaai waar ons een nag oorgeslaap het. Wat 'n uitsig.

snorkel

Ek en Annemarie het Johan en Ariska saamgeneem om die Noorkapper staproete tussen Stilbaai en Jongensfontein te stap. Ons het vir 'n slag ook genoeg Swarttobies gesien.

 

Die snorkel al langs die kus was ook nogal lekker. Andre het een middag 'n lekker klomp alikreukels gekry en 'n heerlike middagete gemaak.

Die kleurvolle huisies in die Bo-Kaap. Johan se idee om die kleur tussen ons te verdeel.

 

 

Soos altyd as ons 'n plek beter wil leer stop ons maar by die beste "inheemse" plekkie wat ons kry. Hier is ons by Ernie se pub by Gansbaai se hawe.