My Weblog
8 Mei 2006
'n Dagboek het nog altyd 'n bekoring ingehou. So ook om briewe aan 'n koerant te skryf. En eintlik het ek nog nooit een van die twee gedoen nie. Dalk wil ek maar net my sê sê..sê. Die weblog konsep is nie 'n dagboek of 'n brief nie en eintlik kan ek hier ook maar nie my sê sê nie. Maar dis naby genoeg.
____________________________________________________________________
10 Mei
En voor ek kon kies waaroor om te skryf, kies die onderwerp my. Ja ons het weer 'n inbraak gehad. Buitekamer oopgebreek en my buitelewe goed gevat. Twee van my vlieghengel stokke ook!!!??
Miskien moet ek maar aanhaal uit 'n dokument van die 1700's waar die veeboere kla oor die "roofsugtige hottentotten". Min het in Suid-Afrika verander.
______________________________________________________
13 Mei
Vanoggend gaan skoolrugby kyk. Ek sal nooit weer hier op Tuine Tegnies se veld aankom sonder om aan 'n insident te dink jare gelede nie. My span moes verslae skryf oor 'n mob fight net na 'n wedstryd. Skryf die een seun toe, "ek en die ander haker het hard gespeel en was nie kwaad vir mekaar nie maar ek dink dit het die tannie met die handsak ontstel. Toe ons afstap toe kom sy vir my...."
Vandag se wedstryde was weer lekker hard en die toeskouers op hul beste. Net die regte opwarming vir die derby tussen die Bulle en Stormers later die middag.
Langs my staan twee plaaslike jong manne en gesels. Die een ou met sy swart "I live in fear every day"T-shirt sê vir sy pêl, "Gaan jy by jou pa-hulle rugby kyk? Ek gaan wragtig nie weer in daai huis rugby kyk nie. Kom ons gaan Blou Bul ranch toe." Antwoord die pêl met die swart "Contents below are must bigger than it seems to be"-T-shirt, "Ja dit sal nice wees. Almal is Blou daar".
Vir 'n oomblik is ek baie lus net om te gaan inloer by die Blou bul ranch maar daar by Rugga Buggas in Centurion is almal ook maar Blou.
______________________________________________________
14 Mei
Moedersdag. Ons vat ouma en oupa bietjie BOERgeoisie toe.
______________________________________________________
???????
______________________________________________________
4 Julie
Soos ek gedink het, skeep ek hierdie weblog maar af. Daar is net te veel ander dinge. Ons was darem verlede week bietjie wildtuin toe. Dit bly maar vir my 'n lekker wegbreek. Ons het in die Sabie River Sun gebly en elke dag met die wild-kaart ingegaan wildtuin toe.
_____________________________________________________
5 Julie 2006
Johan is vandag 15. Die mannetjie is mos mal oor lees en hy hou nogal baie van fantasieverhale. Daarom vier ons gesin sy verjaarsdag by Goblin's Cove restaurant daar naby Magaliesburg.
GELUK seun. Jy is elke dag net 'n plesier.
______________________________________________________
13 Julie
Volgende week is die kursus vir die nuwe VOO kurrikulum. Dit sal seker sy eie pret hê? Hier is 'n foto tydens die week geneem.
From left to right: Magalegale Japhta MAGAKWE, Tillie KAMPER, Wolfgang GEBHARDT, Dikeledi Ruth TIMLONGWE
______________________________________________________________________
23 Julie
Ek kan dit nie glo nie. Verlede nag weer probeer inbreek en Johan se fiets gesteel. Die volgende oggend lê die fiets in 'n sloot agter ons muur. STUKKEND. Toe die alarm afgaan het hulle hopelik hul gatte afgeskrik (ek ook) maar die fiets gegryp en oor die muur gegooi. Briekkabels af en wiele gebuig.
_____________________________________________________________________
25 Julie
Onthou hierdie dag. Ek het weer na twee maande begin gym.
_____________________________________________________________________
3 November
Hemel! Waar het die jaar heen gevlieg? Ek het net nie tyd gehad om te skryf nie. Ek dink die kombinasie van al my werk was bietjie erg.
Ek het darem so tussendeur ons Desember vakansie Kaap toe gereël. Ek is altyd nogal trots om goeie oulike goedkoop plekke te kry. Maar dit vat nogal 'n soektog. Ons bly byvoorbeeld so 23 dae in Desember op verskeie plekke in Wes- en Oos-Kaap teen gemiddeld R320 per nag. Dis nou vir my, Annemarie en Johan. Ek dink ek het die laaste plekke in Suid-Afrika opgespoor vir R250 en R300 per nag vir ons 3. Ek dit lyk nogal baie lekker selfsorg huisies.
Die oornagplekke Kaap toe en terug los ek vir laaste. Ons wonder nog of ons maar direk vir Beaufort-Wes wil ry en of ons maar 'n met 'n ompad so kuier- kuier Kaap toe wil ry. Ek is nogal lus vir die Moordenaarskaroo en ook Sutherland se teleskoop.
Die eerste week bly ons in Houtbaai. Dit is 'n selfsorg eenheid op 'n groterige stuk grond teen die berg. Die naam is Placid Pines en behoort aan die Adams family. Klink spokerig. My plan is om so twee dae af te knyp om in die argief te gaan werk, maar ons het baie tyd vir vakansie en om hierdie keer Tafelberg weer te gaan uitklim tot bo.
Daarna gaan ons Stellenbosch toe. Die rugby-akademie se koshuis het ons verlede jaar nie juis gepas nie. Ons het nou 'n selfsorgeenheid wat R200 per dag vir ons drie is. Die fotos lyk goed. Ons sal maar sien. En daars nog baie in die omgewing te sien ..... en baie wynplase. Ek sal seker ook 'n dag of wat by GISA uitkom.
Ons derde blyplek is die De Hoop natuurreservaat tussen Bredasdorp en Malgas. Ek hoop die snorkelplekke is goed daar.
Dan ry ons verder na die Klein-Langkloof. Ons bly oor die kersnaweek in dieselfde Kransberg Cottage as verlede jaar. Op een van die stamvader se ou plase.
'n Nuwe toevoeging vanjaar is Slagboom. Ek dink dit gaan nogal lekker wees. Ek was ook nog nooit in Addo nie.
Die terugry is ook nog nie beplan nie. Dalk Hogsback hierdie keer of eers Somerset-Oos en dan verder.
__________________________________________________________________________
15 November 2006
|