jumping trout

VLIEGHENGEL

Ek het nooit juis visgevang nie. Maar elke keer as ons ons gesin n lekker wegbreek het dan is daar bo en behalwe die stap en voëlskyk ook vlieghengel iewers in die agtergrond. .

'n Naweek op Beth-sean, 'n heerlike plaas so 30 km van Dullstroom af het ons 'n kans gegee om vlieghengel te probeer. Daar was stokke te huur en die dam is reg langs die huisie. Toe ek daai eerste forel uittrek is ek ook gehaak.









karnemelkspruit











'n EERSTE BESOEK AAN DIE WILDE FOREL WêRELD, LADY GREY EN RHODES

In Maart 2003 het ons gaan kyk hoe die Drakensberg van die Oos-Kaap lyk. Lady Grey is 'n pragtige dorpie. Ons het op die plaas "Ossa" gebly. Dit is nou deel van die Lammergeyer privaat natuurreservaat. Die foto hier links is waar ek wilde forel gejag het in die Karringmelkspruit. Daar het 'n koue windjie gewaai maar die vis kon nie die Muddler minnow weerstaan nie. Ek het hier 'n kleinerige reënboogforel van 20 cm gevang.

Ons volgende blyplek was op die plaas Vredesrus in die Tentkop omgewing. Op pad daarheen het ons eers in Rhodes gekuier. Hierdie dorp is 'n juweeltjie. Ons het in die bekende Rhodes hotel middagete geëet en in die klein winkeltjie voorrade aanvul. Soos gebruiklik moes ek op Rhodes vir Juan-Mari Naude van die plaas Vredesrus bel om te sê as ek daar vertrek. Die 30 km na hulle plaas toe via Naudesnek neem omtrent een en 'n half uur om te voltooi. Sy moes glo al dikwels 'n soekgeselskap uitstuur om mense te gaan haal. Naudespas was nogal 'n uitdaging vir die Polo maar ons het lekker rustig gery en die omgewing goed bekyk.

Die Bellrivier wat langs die pad vanaf Rhodes kronkel is baie mooi. Ons moes elke keer by 'n bruggie oor die rivier stop om te kyk of ons nie forel sien nie. En ek het vangplekke gesoek vir volgende keer. Een van die bakens vir 'n lekker stroompie is 'n telefoonhokkie wat daar in die middel van nêrens staan!

Vredesrus het twee heerlike selfsorg huisies en 'n reuse dam van 18 ha waar daar lekker groot forelle is. Ek het vir ons twee mooi 1kg reënboogforelle gehou vir aandete. Ek het die forel gebraai in 'n pekanneut en gooseberry sous. Ons het heerlik geëet en gekuier. Ons het twee heerlike (en koue) dae daar deurgebring voordat ons oor Mclear, Matatiele en Kokstad na die strandhuis by Uvongo is.
Hierdie wêreld sien my weer.

'n TWEEDE BESOEK AAN LADY GREY

Kyk dit was toe mos die groot kompetisie tussen my en Koos. Kola van die Noord-Kaap is die groot Geelviskoning. Hy ken glo riviere. Ek het nog net forelle, en meestal in damme, gevang.

Die eerste dag probeer ek droeë vligies, ligte vliegies wat op die water dryf. Koos gebruik lekker olyfkleurige, bruin en swart vere. En hy is sommer gou al 3 -0 voor. Tot ek besef wat eet die bruines.

Ek en Annemarie besluit om sowat 8km langs die karringmelkspruit op te stap en al die goeie plekke te probeer. Dit was werklik 'n stappie duisend.

Ons het weer almal in Ossa gebly. Daar is niks so lekker om die koue aande voor die Aga stoof te sit en kuier nie. Sommer altwee gesinne om die groot kombuistafel.

ANDER VISVANGPLEKKE

Davies trout het gesorg vir 'n lekker naweek. Hulle het hul eie visteelstasie en daarom is daar lekker baie vis. Vir Johan en Deon was dit heerlik.

Hier is twee fotos met nefie Deon se eerste forel en Johan se rooi forel.